Username: Password: Register
 
4X4Cape News
Klein Tafelberg 25 - 27 November 2011
Created by Craig Parsons in 3/12/2012 8:44:14 PM

 Klein Tafelberg 25-27 November 2011


Klein Tafelberg 25-27 November 2011

Verlede naweek was die laaste naweek uitstappie vir die klub vir die jaar en ek en my vrou het die geleentheid gebruik om dit saam met ander klublede tyd te spandeer en dit te  geniet ...

Die van julle wat nog nie by Stephen Burger gaan kuier het nie, weet nie wat julle mis nie en ek is seker elkeen moet dit ten minste op sy "bucket-list" sit.

ʼn Heerlike rustige omgewing, wonderlike gasheer, uiters gemaklike en skoon geriewe, maklik die beste wat ek nog by was en natuurlik die heerlike geselskap rondom die vuur Vrydagaand.

Ons het sommer dadelik tuis gevoel en lekker gelag vir Hugh & Deon se kwinkslae en was aangenaam verras oor die gemaklikheid wat tussen die mense geheers het, so asof ons mekaar al lankal ken.

Sommige van ons het meer gepraat as ander, sommige het meer olie gebruik as ander, wonderlike atmosfeer .........

Boma Kleintafelberg

Die sandroete was baie uitdagend, veral vir ons "newbies" en daar het Stephen homself bewys deur goeie raad en leiding te gee.

Sommige van ons moes soms meer as een keer probeer om die sekere dele van die roete te voltooi, almal was egter baie geduldig en self ʼn bietjie senuweeagtig, gaan jy dit maak?

Na die voltooiing van die sandroete en so hier en daar ʼn bietjie klippe, is  keuring gedoen om te bepaal wie se voertuie geskik sal wees vir die kliproete gedeelte, en natuurlik het Stephen baie mooi gekyk wat gebeur het in die sandroete.

kleintafelberg 4x4

Elkeen het ʼn keuse gehad of hy /sy die kliproete wil doen en op die ou einde is net vier voertuie van die altesaam twaalf weg om die gedeelte te doen terwyl die res lafenis onder ʼn lekker groot boom geniet het, en soos gewoonlik oor die gebeure en ervaring van die oggend gesels.

Die kliproete was meer as wat ek verwag het, moet eerlik wees dat as Stephen nie by was nie, sou ek dit seker nie aangedurf het nie.

Sowat van afdraand gly en opdraand klim oor klippe en rotse, deur gate, om draaie en dan was daar natuurlik die trappe wat ernstige tegniese bestuur vereis het. Weereens het almal die roete voltooi onder die bekwame leiding van Stephen, sonder dat enige skade aan iemand se voertuie aangerig was.

Na die aflegging van die moeilikste deel van die roete, was daar lede wat nog nie genoeg gespeel het in die sand nie, en hulle het weer gedeeltes van die roete gedoen.

Die van ons wat nie weer in die sand wou speel nie, het rustig teruggekeer na die kampterrein waar die dag se verrigtinge afgesluit is met ʼn lekker kampvuur en ʼn braai, en ja, natuurlik baie geskerts oor die dag se gebeure...

kleintafelberg camping4x4cape

Sondag, was niemand lus vir huistoe gaan nie.

Salome het met ʼn voorstel vorendag gekom om eers Elandsbaai toe te ry, en dit het byval gevind by van die lede. Salome, Skorrie & Morrie en Eugene (Rig) & Margaret, van ons het besluit dit sal die aangewese manier wees om die heerlike naweek af te sluit.

Op Elandsbaai het Salome vir ons heerlike vars kreef teen ʼn billike prys gereël by die hawe en ons het so ʼn 100 meter verder stilgehou, ons gasstofie en ketel geneem, tafel en stoele, iets om te geniet saam met die kreef, en afgetrek rotse toe om ons middagmaal te gaan voorberei.

Dit was heerlik om sommer net daar op die rotse die kreef gaar te maak, en soos konings geëet .... sjoe, dit was lekker spontaan, ek kan saamleef daarmee....

Daarvandaan het ons teen die see af oor Dwarskersbos, Velddrif, Laaiplek en Langebaan terug gery huis toe op die Weskuspad en almal veilig by die huis aangekom.

Ek is seker almal wat die uitstappie meegemaak het, nuwe vriendskapbande gesmee en wyser  geraak oor hierdie wonderlike voertuie waarmee ons ry.

Dit was vir my ongelooflik hoe gemaklik die mense met mekaar gewees het en ek het groot waardering daarvoor, veral op die manier waarop ons as deel van die groep aanvaar is vir die naweek .....

Kan nie wag vir die volgende naweek uitstappie nie, en sien julle daar wat nie die keer kon saamgaan nie...

Skorriemorrie... oor en uit!!

print
Return



 Comments

    
Copyright 2018 by Active Online Media   |  Privacy Statement  |  Terms Of Use  Skin designed by Alldnnskins.com